Dit wil voorkom of Sunette Bridges nogal daarvan hou om te dreig en kyk na die voorbeeldige Taalgebruik.
4Werke toe Sunette en Kie. nie van resensie hou.
2006-04-06 21:27
Louise Laubscher en Carryn-Ann Nel
Oudtshoorn. - "As ek 'n man was, het ek hom gebliksem."
Só het die sangeres Sunette Bridges gistermiddag vinger in die lug in die kantoor van die feeskoerant Krit gal af gegaan oor 'n rubriek van die skrywer Jaco Botha, een van Krit se verslaggewers.
Hy het dit geskryf nadat hy die vertoning van Bridges, Jannie Moolman, Karla du Plessis en Hugo, 4Werke, in die SABC-Gimsaal by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees gesien het.
Die opskrif van die rubriek: "Baanbrekers in kultuur van middelmatigheid" is geplaas naas 'n resensie van Krit se Ruan Bruwer.
Dit lui: "Wat 'n vertoning! Die vier het toe wragtag gesorg vir vuurwerk (op die verhoog)."
Harde woorde het geval toe 'n woedende Bridges en Du Plessis aan die sy van haar man, Jacques Reinecke, en sy ma, Paulette Reinecke, bestuurder van die Centurion- teater, vir Susan Samuel, Krit-redakteur, en Botha getakel het.
Die groot ongelukkigheid was oor Botha se siening van "die middeljarige, plattelandse gehoor met hul vormlose kleredrag en niksseggende haarstyle".
Dit lui verder: "Sunette se lied laat my rillend dink aan 'n slegte acid trip . . . Karla het min van haar briljante pa se liedjieskryftalent geërf. Ek is bang, ek verlang, ek voel wrang, ek proe stoelgang . . . Eintlik sal net (die tenoor) Jannie Moolman van die vier op 'n verhoog in 'n beskaafde land toegelaat word . . ."
Dié relletjie van Bridges en kie was kort nadat Moolman ewe kwaad by Krit aangekom het.
Bridges het gesê: "Die mense wat aangevat is, is nie 'hoës' nie. Jy kan my kritiseer.
"As jy die mense kritiseer wat die fees aan die lewe hou, maak jy 'n moerse fout.
"Wat weet hy, hy weet niks. As ek 'n man was, het ek hom gedonner," het sy getier.
Moolman het Botha beskuldig dat hy bevooroordeeld was.
"As jy sê my stem is k**, is dit fine, maar jy beledig die mense wat na die vertoning kom kyk. Wat jy gedoen het, is pateties.
"Ek is al 16 jaar in die bedryf. Dit is die eerste keer wat ek vir 'n koerant moes gaan vra: why?
"Ek het hierheen geloop en vir myself gesê calm down, calm down," het Moolman gesê.
Samuel het gesê sy kan verstaan dat hulle kwaad is, "maar dit is 'n kwessie van smaak. Julle het die reg om 'n opinie te lug, net soos Jaco die reg het". Sy het Moolman genooi om hul kant van die saak in Krit te stel.
"Ek dink nie ware aanhangers sal afgesit word weens Jaco se rubriek nie. Hulle moet meer vertroue in hul aanhangers stel."
Moolman het gesê die skade is gedoen.
Botha het gesê hy is nie spyt oor wat hy geskryf het nie. "Dit is 'n eerlike ervaringstuk. My ervaring van 4Werke was nie goed nie. Dit is jammer dat die kunstenaars met fisieke geweld gedreig het."
- Beeld
No comments:
Post a Comment