Goosen kap Bridges op net
2012-07-20 22:27
Kaydene Jordaan
DIE sanger Sunette Bridges se inskrywing op haar Facebook-blad dat sy nie in die Madiba-euforie deel nie en nie bereid is om ’n “afgod van die vader van die ‘Gewapende Stryd’” te maak nie, het kritiek van haar Facebook-vriende en aanhangers ontlok, en die liedjieboer Anton Goosen het haar skerp gekap.
Bridges het vroeg op Mandela-dag ’n inskrywing op haar Facebook-blad geplaas oor “die hele wêreld wat in Mandela-mania verval het”.
Nadat sy ’n groot debat onder haar Facebook-vriende en aanhangers ontketen het en Goosen haar gekap het, het sy die hele gesprek verwyder.
Goosen se kommentaar op haar blad was: “Sunette, ek ken jou nie – ek is Anton Goosen – ek dink nie jou rassisme en houding help die opbou van ons land in enige opsig nie. Jy en jou regse maatjies veroorsaak al hoe meer onmin in plaas van opbou.
“Jy verwar Madiba blykbaar met Malema, Verster, Botha en die apartheidsregime wat duisende mense vermoor het.
“Dink bietjie aan Eugene de Kock, Lothar Neethling en Wimpie Basson.
“Ek is skaam om deesdae ’n Afrikaner genoem te word.”
Bridges het later weer van haar laat hoor: “Ek sien die Liberaliste het op my toegesak omdat ek nie in hul Madiba-Euforie deel nie. En by gebrek aan woordeskat om my toe te snou, is ek nou ’n rassis.
“En dit omdat ek nie bereid is om ’n afgod te maak van die vader van die ‘Gewapende Stryd’ nie.
“’n Stryd wat hy nog nooit afgeweer het nie.
“Gaan groot. Dit skeel my min.”
Sy het verder mense aangemoedig om van hul 67 minute te gebruik om aan misdaadslagoffers te dink.
“En terwyl julle so feesvier, gebruik ’n stukkie van jou 67 minute om te dink aan die Mamma en Pappa van ’n onskuldige Baba wat in Delmas vermoor is wat vandag moes hoor dat die aanklagte van moord teruggetrek is teen die moordenaars van hul kind, omdat daar nie genoeg bewyse is dat hulle die moord gepleeg het nie en hulle nou slegs vir ‘diefstal’ verhoor sal word.
“En staan dan nog so paar minute af aan die meer as 3000 boere wat vermoor is danksy die gewapende stryd.”
Goosen het gister aan Volksblad gesê terwyl die wêreld Mandela respekteer, maak ’n sekere groep mense hom af as ’n terroris en moordenaar. Mandela-dag is ’n dag van versoening. Daarom sy inskrywing op Bridges se blad.
Bridges kon nie vir kommentaar bereik word nie.
- Volksblad
No comments:
Post a Comment